Saturday, January 5, 2008

Die Amperse Tweegeveg

Die Amperse Tweegeveg
John Montgomery, van Ierse herkoms, het die Britse 1820-Setlaars na die Oos-Kaap vergesel waar hy later met ‘n Afrikaanse meisie trou, boer en smous. Hy besoek die Trekkers, van wie hy baie persoonlik geken het, met sy smouswa in die Transoranje, trek saam oor die Vaalrivier, en maak die tweede en beslissende strafekspedisie teen Mizilikazi mee. Dit was juis tydens die voorbereidsels vir die veldtog dat die volgende voorval hom afgespeel het:“So het ons die tyd heel aangenaam verwyl totdat Piet Uys hom by ons aangesluit en die gerug die ronde gedoen het dat hy die bevel gaan oorneem. Dit het Gert Maritz rooi laat sien en hom genoop om dreigemente met betrekking tot Piet Uys te uiter, en sodanige dreigemente is aan Piet Uys oorvertel, waardeur ‘n verskriklike woede in hom opgestaan en hom daartoe gebring het om sy manne bymekaar te roep vir oorlegpleging om Gert Maritz plat te loop. Op die ou end is besluit om Gert Maritz tot gehoorsaamheid te dwing deur ‘n groep van 150 gewapende manne na sy tent te stuur (…..)“Omdat ek gemerk het dat alles in gereedheid was om Maritz aan te val, het ek Uys oorgehaal om ‘n entjie saam met my te gaan loop. Ek het met hom woorde gewissel en daarin geslaag om hom oor te haal dat hy saam met my moet stap om Gert Maritz uit te daag, met die belofte dat ek al die nodige sou verskaf en as sy sekondant sou optree omdat daar g’n nodigheid was om ‘n skeuring tussen al die burgers te veroorsaak net omdat hy en Maritz ‘n uitval gehad het nie (…..)“Ons het dus nader gestap, en ek het die uitdaging oorgedra, maar Maritz was nie bereid om teen Uys te veg nie. ‘Ek het nie pistole nie,” het hy gesê, ‘O, ek sal vir jou kry,’ het ek gesê, ‘Ons moet dit uitbaklei en die saak uit die wêreld maak.’ ‘Maar nie op so ‘n manier nie,’ het Maritz geantwoord. ‘Dan moet julle bymekaarkom en dit uitpraat,’ het ek gesê. ‘En jy moet om verskoning vra as jy miskien oorhaastig harde woorde gesê het.’“Maritz het ingestem, en die twee groot manne het gesels. Ek dog ek lag my ‘n papie toe hulle teenoor mekaar te staan kom; hulle het mekaar uitgeskel soos sakkerollers, en ek het kort-kort gedink dat hulle mekaar met die vuis gaan bydam; maar daarvoor het hulle darem nie kans gesien nie. Toe die woordestryd afgeloop was, het mev. Maritz die tee reg gehad. Daarop is ‘n meer verkwiklike gesprek voortgesit, die tabaksak is omgestuur, en die vredespyp gerook. Daar is ooreengekom dat Uys en Maritz elkeen in beheer van sy eie mense sou bly.”