Saturday, January 5, 2008

Die Ossewa en Taal

Oor die ossewa en taal
Talle van die uitdrukkings wat rondom die os en die ossewa vroeër sommer deel van die daaglikse lewenswyse was, ken ons vandag nog maar net in ‘n oorgedraagde vorm en weet baie van ons eintlik glad nie waar dit regtig vandaan kom nie.Die spreekwoord: Agteros kom ook in die kraal.Die wa was getrek deur ‘n span osse waarvan die agterosse gewoonlik groot, swaar en baie mak osse was want hulle moes ook die disselboom van die wa dra. As dit ‘n moedswillige os was kon die disselboom dalk breek, die boere het dan gesukkel en boonop was dit ‘n groot skade. Wanneer die osse dan uitgespan was en iewers heen, soos bv. die veld of kraal toe aangejaag was, het die osse gewoonlik ook agter die ander geloop. Vandaar dan: Agteros kom ook in die kraal.Die spreekwoord: Stadig oor die klippe.In die binneland was daar destyds geen brue, ponte of gebaande paaie gewees nie, en die driwwe, riviere en selfs die veld was maar besaai met klippe. Op en deur sulke plekke moes die waens dan vanselfsprekend maar stadiger ry om nie ‘n ongeluk te maak nie. “Stadig oor die klippe” was dus ‘n vermaning wat maar alte dikwels gehoor is. Vandaar dan: Stadig oor die klippe.Die spreekwoord: Die laaste skof:Die afstand wat deur die ossewa afgelê was, was ‘n skof genoem. So is daar dan ‘n oggenskof getrek waarna die osse eers kans gekry het om te blaas, dan kon daar ook ‘n middagskof, aandskof en selfs ‘n nagskof wees. Maar na die die laaste skof van die dag, is daar finaal uitgespan en kon mens en dier dan rus. Vandaar dan: Die laaste skof. (Mynwerkers praat vandag nog ook van die laaste skof van die week of siklus).

No comments: