Saturday, January 5, 2008

Name Oor en Weer

Name oor en weer

Dit was ‘n ou Boeretradisie om name aan te pas en uit te spreek soos dit miskien skeef gehoor is, of die maklikste op die tong gelê het.

So het Du Plessis sommer Plesie geword, of Wepener dalk Wippenaar. Daarom is dit glad nie vreemd dat aangepaste name aan die orde van die dag was t.o.v. die swart volkere onder wie die Trekkers inbeweeg het nie.

Hiermee het hulle ook aangesluit by die naamgewing deur sendelinge, gewoonlik Engelstaliges, wat hulle voorgegaan het. Hier is ‘n paar voorbeelde, eers die regte vorm van die naam en dan die afleiding (s):
Dambuza – Tamboes (aanvoerder by Bloedrivier)
Dingane – Dingaan
Moroka – Marok
Moshweshwe – Mosjesj, Masoes
Mpande – Panda
Mzilikazi – Mozelekazi,
Silkaats
Ndlela – Slela (aanvoerder by Bloedrivier)

Hierdie naamsvervormings het nie net in een rigting plaasgevind nie.
So was Louis (Lewies) Tregardt onder sommige Swartmense bekend as Lewiesa of Lebese,
Hendrik Potgieter as Henreke,
En Andries Pretorius as Antilisi.
Die swartmense is ook bekend daarvoor dat hulle besonder raak byname aan mense kan toeken.
Volgens oorlewering was Hans Dons de Lange, die onverskrokke vegter, onder die Zulu bekend asIgwababa Mhlope, die Wit Kraai.
Die Trekker Lodewyk de Jager was Malondolosa, die Oppasser, omdat hy baie sekuur na sy besittings omgesien het.
Nicolaas Breytenbach was bekend as Majaja Bomvu, Rooi Soldaat, weens sy militêre houding en rooi baard.
Afgesien van die vervorming van sy voornaam, het die Zulu nog ‘n naam vir Andries Pretorius gehad: Galonkulu, Dit beteken Sterk Arm.

No comments: