Saturday, January 5, 2008

Die Amperse Tweegeveg

Die Amperse Tweegeveg
John Montgomery, van Ierse herkoms, het die Britse 1820-Setlaars na die Oos-Kaap vergesel waar hy later met ‘n Afrikaanse meisie trou, boer en smous. Hy besoek die Trekkers, van wie hy baie persoonlik geken het, met sy smouswa in die Transoranje, trek saam oor die Vaalrivier, en maak die tweede en beslissende strafekspedisie teen Mizilikazi mee. Dit was juis tydens die voorbereidsels vir die veldtog dat die volgende voorval hom afgespeel het:“So het ons die tyd heel aangenaam verwyl totdat Piet Uys hom by ons aangesluit en die gerug die ronde gedoen het dat hy die bevel gaan oorneem. Dit het Gert Maritz rooi laat sien en hom genoop om dreigemente met betrekking tot Piet Uys te uiter, en sodanige dreigemente is aan Piet Uys oorvertel, waardeur ‘n verskriklike woede in hom opgestaan en hom daartoe gebring het om sy manne bymekaar te roep vir oorlegpleging om Gert Maritz plat te loop. Op die ou end is besluit om Gert Maritz tot gehoorsaamheid te dwing deur ‘n groep van 150 gewapende manne na sy tent te stuur (…..)“Omdat ek gemerk het dat alles in gereedheid was om Maritz aan te val, het ek Uys oorgehaal om ‘n entjie saam met my te gaan loop. Ek het met hom woorde gewissel en daarin geslaag om hom oor te haal dat hy saam met my moet stap om Gert Maritz uit te daag, met die belofte dat ek al die nodige sou verskaf en as sy sekondant sou optree omdat daar g’n nodigheid was om ‘n skeuring tussen al die burgers te veroorsaak net omdat hy en Maritz ‘n uitval gehad het nie (…..)“Ons het dus nader gestap, en ek het die uitdaging oorgedra, maar Maritz was nie bereid om teen Uys te veg nie. ‘Ek het nie pistole nie,” het hy gesê, ‘O, ek sal vir jou kry,’ het ek gesê, ‘Ons moet dit uitbaklei en die saak uit die wêreld maak.’ ‘Maar nie op so ‘n manier nie,’ het Maritz geantwoord. ‘Dan moet julle bymekaarkom en dit uitpraat,’ het ek gesê. ‘En jy moet om verskoning vra as jy miskien oorhaastig harde woorde gesê het.’“Maritz het ingestem, en die twee groot manne het gesels. Ek dog ek lag my ‘n papie toe hulle teenoor mekaar te staan kom; hulle het mekaar uitgeskel soos sakkerollers, en ek het kort-kort gedink dat hulle mekaar met die vuis gaan bydam; maar daarvoor het hulle darem nie kans gesien nie. Toe die woordestryd afgeloop was, het mev. Maritz die tee reg gehad. Daarop is ‘n meer verkwiklike gesprek voortgesit, die tabaksak is omgestuur, en die vredespyp gerook. Daar is ooreengekom dat Uys en Maritz elkeen in beheer van sy eie mense sou bly.”

Piet Uys

Piet Uys
Piet Uys, een van die jonger Voortrekker-leiers, was kort en geset met blonde hare en ‘n dik baard. Hy was gesellig en aangeneem in die omgang sodat hy deur baie mense gerespekteer is. Sy verhouding teenoor die ouer leiers was dat hy hul ouderdom gerespekteer het, maar hy het dit sy plig geag om toe te sien dat hulle hul taak nougeset uitvoer. Ook was hy ‘n opperste individualis en kon soms ook maar dwars wees. Hy wou bv. Aanvanklik nie die eed van getrouheid aan Retief as goewerneur van die Trekkers aflê nie, en na die aanval by Bloukrans en Weenen, tydens die strafekspedisie teen Dingane, wou hy nie onder Maritz of Potgieter se bevel staan nie, met noodlottige gevolge.

Gert Maritz

Gert Maritz

Gerrit Maritz was by die ses voet lank, regop, flink en meer modern as die ander Voortrekkers gekleed. Hy het 'n vaalbruin baard, sonder 'n snor, en kort hare gehad. Sy broek het hy hoog onder sy baadjie gedra, en laasgenoemde was, soos sy onderbaadjie, redelik lank. Hy was lief vir 'n hoebol-keil van vaal wol. Maritz was 'n stil, godvresende man, maar tog iemand wat 'n grappie kon geniet.Onder die Trekkers was hy baie gewild vanwee sy vriendelikheid en sy bereidheid om altyd die in nood te help. Reeds in die Kolonie was hy 'n welvarende en invloedryke man, en hy het 'n leiersposisie onder die Trekkers beklee.

Andries Hendrik Potgieter

A.H. Potgieter

Andries Hendrik Potgieter was sterk en gespierd en ruim ses voet lank. Hy het ‘n ligte vel gehad en donkerbruin hare wat in ‘n reguit randjie op sy voorkop gehang het. Daarby het hy ‘n ylerige knewelbaard gehad, d.w.s. die bolip was skoon geskeer.Hy was gewoonlik in blou molvel gekleed, vandaar sy bynaam “ou Bloue”. Sy klere was tuisgemaak en het bestaan uit ‘n kort baadjie, ‘n klapbroek met ‘n skuif wat agter vasgemaak het, en ‘n breërand- wit strooihoed met ‘n groen voering. By formele geleenthede het hy egter ‘n vaal hoëbol-hoed gedra, ‘n kort broek wat net onder sy knieë met silwergespes bevestig is. Lang wit kouse en lae swart skoene, ook met silwergespes. Hy het altyd ‘n herneutermes aan sy sy gedra.Potgieter was ‘n kindervriend. Dikwels het hy met die kinders grappies gemaak en kon die mense hulle hoor skaterlag. Ook onder volwassenes was hy gewild, want hoewel hy ‘n man van min woorde was, was hy innemend, met ‘n fyn sin vir humor, Potgieter se geaardheid word goed in die volgende woorde opgesom: “Hy was nie impulsief nie, maar volhardend en sy besluitvastheid het aan koppigheid gegrens. Hy was baie konserwatief en sekuur in al sy handelinge, maar hy was gou om misverstand uit die wêreld te ruim en om persoonlike krenkings te vergewe. Hy het uit sy pad gegaan om vrede onder die Emigrante te bewaar.Hy stel sy ideaal duidelik –‘n Volk, aansienlik in getal, eendragtig, dapper.”

Piet Retief

Piet Retief
Piet Retief was gewoonlik in ‘n kort, donker baadjie en ‘n ligte klapbroek gekleed. Daarby het hy ‘n hoëbal-wolhoed gedra wat nie ‘n besonder breë rand gehad het nie. Hy het ‘n sterk persoonlikheid gehad, maar was minsaam en saggeaard.Retief was ‘n man wat dikwels wanneer daar twis was, die vrede en eensgesindheid herstel het.
Die Voortrekker Lourens C. de Klerk het hom later soos volg beskryf:
“Die mees familiare voorstelling van Retief soos dit in die herinnering oorblijf, is terd sittende, met ‘n ligte broek en swarte bô-baadjie. Die berig dat hij aankom gaat hom altoos ver vooruit, soos hij van een laer naar die ander rij, en als hij voorbijkom, klim die mense op die waens om hom beter te kan sien, en groet almaal beleef. Op sij lijf het hij g’n wapens gedra nie.”

Name Oor en Weer

Name oor en weer

Dit was ‘n ou Boeretradisie om name aan te pas en uit te spreek soos dit miskien skeef gehoor is, of die maklikste op die tong gelê het.

So het Du Plessis sommer Plesie geword, of Wepener dalk Wippenaar. Daarom is dit glad nie vreemd dat aangepaste name aan die orde van die dag was t.o.v. die swart volkere onder wie die Trekkers inbeweeg het nie.

Hiermee het hulle ook aangesluit by die naamgewing deur sendelinge, gewoonlik Engelstaliges, wat hulle voorgegaan het. Hier is ‘n paar voorbeelde, eers die regte vorm van die naam en dan die afleiding (s):
Dambuza – Tamboes (aanvoerder by Bloedrivier)
Dingane – Dingaan
Moroka – Marok
Moshweshwe – Mosjesj, Masoes
Mpande – Panda
Mzilikazi – Mozelekazi,
Silkaats
Ndlela – Slela (aanvoerder by Bloedrivier)

Hierdie naamsvervormings het nie net in een rigting plaasgevind nie.
So was Louis (Lewies) Tregardt onder sommige Swartmense bekend as Lewiesa of Lebese,
Hendrik Potgieter as Henreke,
En Andries Pretorius as Antilisi.
Die swartmense is ook bekend daarvoor dat hulle besonder raak byname aan mense kan toeken.
Volgens oorlewering was Hans Dons de Lange, die onverskrokke vegter, onder die Zulu bekend asIgwababa Mhlope, die Wit Kraai.
Die Trekker Lodewyk de Jager was Malondolosa, die Oppasser, omdat hy baie sekuur na sy besittings omgesien het.
Nicolaas Breytenbach was bekend as Majaja Bomvu, Rooi Soldaat, weens sy militêre houding en rooi baard.
Afgesien van die vervorming van sy voornaam, het die Zulu nog ‘n naam vir Andries Pretorius gehad: Galonkulu, Dit beteken Sterk Arm.

Die Ossewa en Taal

Oor die ossewa en taal
Talle van die uitdrukkings wat rondom die os en die ossewa vroeër sommer deel van die daaglikse lewenswyse was, ken ons vandag nog maar net in ‘n oorgedraagde vorm en weet baie van ons eintlik glad nie waar dit regtig vandaan kom nie.Die spreekwoord: Agteros kom ook in die kraal.Die wa was getrek deur ‘n span osse waarvan die agterosse gewoonlik groot, swaar en baie mak osse was want hulle moes ook die disselboom van die wa dra. As dit ‘n moedswillige os was kon die disselboom dalk breek, die boere het dan gesukkel en boonop was dit ‘n groot skade. Wanneer die osse dan uitgespan was en iewers heen, soos bv. die veld of kraal toe aangejaag was, het die osse gewoonlik ook agter die ander geloop. Vandaar dan: Agteros kom ook in die kraal.Die spreekwoord: Stadig oor die klippe.In die binneland was daar destyds geen brue, ponte of gebaande paaie gewees nie, en die driwwe, riviere en selfs die veld was maar besaai met klippe. Op en deur sulke plekke moes die waens dan vanselfsprekend maar stadiger ry om nie ‘n ongeluk te maak nie. “Stadig oor die klippe” was dus ‘n vermaning wat maar alte dikwels gehoor is. Vandaar dan: Stadig oor die klippe.Die spreekwoord: Die laaste skof:Die afstand wat deur die ossewa afgelê was, was ‘n skof genoem. So is daar dan ‘n oggenskof getrek waarna die osse eers kans gekry het om te blaas, dan kon daar ook ‘n middagskof, aandskof en selfs ‘n nagskof wees. Maar na die die laaste skof van die dag, is daar finaal uitgespan en kon mens en dier dan rus. Vandaar dan: Die laaste skof. (Mynwerkers praat vandag nog ook van die laaste skof van die week of siklus).

Gebruike van Dierename

Gebruike van Dierename
Wanneer ons die Geskiedenis boeke oopmaak en van die Groot trek lees kan mens duidelik waarneem dat die Trekkers hul grootse liefde vir Afrikaans tot op hul diere laat oorspoel het. Die Trekkers in Natal het byvoorbeeld selde hul diere Zulu- of Engelse name genoem, maar tipies Afrikaanse name genoem.Name wat Geaardhede aandui soos:Geduld, Gewild, Hartseer, Kwaaiman, Liefhebber, Makman, Speelman, Soetland, Vryman en Wysman was van die name wat gebruik was vir osse.Kleur het ook ‘n rol gespeel in benoeming en daar was osse soos:Donkerland, Houtskool, Rooiland, Rooiman, Swartland, en selfs Witbal.Persoonsname soos:Danster, Joeman en Robbert het ook voorgekom.Nog ‘n tema vir die benoeming van die osse was Plekname wat ook denkbeeldige name ingesluit het soos:Blokland, Blouberg, Donkerberg, Bontberg, Drieberg, Friesland, Kolberg, Platberg, Suurberg, Swartberg en dan ook Wiegeland.Dan het die bitterheid van die trekkers vir die Britse owerheid ook ‘n plek in die benaming gekry, soos:Engelsman of Rooinek.‘n Interessante feit om op te let was dat osname dikwels op krag gedui het, waar die koeie heeltemal ander name gehad het soos:Blommetjie, Bontrok, Borsrok, Kolletjie, Nonna, Soetlief, Swartrok, Witlief of selfs Witlies.

Wie getrek het

Wie getrek het.
Volledige inligting oor watter mense almal die Groot Trek meegemaak het, bestaan nie, maar uit die beskikbare gegewens kan tog 'n paar betekenisvolle afleidings gemaak word.Onder die Trekkers was daar gegoede mense.Louis Tregardt het tien slawe besit, en sy seun Carolus het met 8 000 skape, 1 300 beeste en 33 perde oor die Kolonie se grens getrek en in Hintsa se land gaan woon.Ryk Joseph van Dyk het, na bewering,meer as £10 000 in goudmunt by hom gehad.F. Robberts, wat saam met Piet Retief om die lewe gebring is,het minstens £1 000 in goudmunt in sy wa gehad.Andries Hendrik Potgieter het by Vegkop5 000 skape en400 beeste verloorDie 113 gesinne wat die Tarka verlaat het,het 102 600 stuks kleinvee,6 900 beeste en1 000 perde gehad.Arme mense was daar ook,maar baie van hulle is veral deur die Sesde Grensoorlog van 1834 uitgeroei. Toe is 161 930 stuks kleinvee en 111 930 beeste geroof, 456 huise afgebrand en 58 waens verwoes.Onder die Trekkers was enkele Britse Setlaars uit die Oos-Kaap. Die trek het meegebring dat die blanke bevolking in die Oosgrens-distrikte met omtrent 20 % gedaal het.

Oor Gewere

Oor gewere
Lourens Christian de Klerk vertel:
"Steen-gewere was algemeen; doppies nog nie bekend nie. Die meeste mense het gepraat van 'n 'snaphaan' en nie van geweer of roer nie. Die algemene kaliber van die snaphane was 6 op 'n pond, tot 12 en selfs 14 op 'n pond, dit is ste se: ses koels weeg 'n pond, vandaar die benaming 'ses-ponder', ens. Die benaming van 'babiaan-bout' is afkomstig van die vorm van die kolf. 'Sterloop' was 'n algemene naam vir 'n bepaalde soort geweer, wat 'n silwere sterretjie op die loop ingeleg gehad het net voor of agter die visier. Die beste sterlope was die 'Frederik Botha's', na die maker daarvan sogenoem, meestal agt-en tienponders."'Blauwblaser' was die bij-naam van 'n ander soort geweer, wat van minder betekenis geag word, ook ag- en tien-ponders. Die 'Jan Cuylenburgs' was goeie gewere van dieselfde kaliber; die 'Jan Watermeyers' had nie so 'n goeie naam nie. Dan was daar 'n geweer in gebruik op die loop waarvan gestaan het 'Jacob Oortman, Amsterdam', van ag, tien en twaalf op 'n pond; die word beskouw als uitstekend goeie skietgewere. Die 'Levi'-gewere had 'n reeks van met silwer ingelegde letters op die loop, en 'n sterretjie net voor die visier, en het goed geskiet."Die vier- en ses-ponders had 'n geweldige terugstoot, sodat die kinders en seuns wat hul daaraan waag, dit nie lig 'n tweede keer doen nie. Of'f almaal getrokke lope was, kan nie met sekerheid geseg word nie; maar die meeste gewere van die tijd had seker getrokke lope, met 'n geslingerde groef, en ook reguitgroewe. Bekend was ook twee-loop haelgewere - eweneens met vuursteen lading-ontsteking."Verskeie mense en vooral die offisiere, het ook pistole gehad. Die word nie algemeen gedra nie, maar alleen in tijd van oorlog konmens 'n kappel daarvan aan die sael sien, of aak wel om die lijf gedra. Die lading daarvan moes ook met 'n vuursteen ontsteek worde, en hul het natuurlik net een skoot geskiet, dan moes mens weer laai, daarom word dit in hul koppels gedraag."

Die Uys Bybel

Die Uys Bybel
In April 1837
vertoef die Uys-trek van omtrent honderd siele sterk, op pad van Uitenhage na die Transoranje, buitekant Grahamstad. Die ou patriarg Jacobus Uys staan in naam aan die hoof, maar die eintlike leier is sy seun Pieter Uys. Uit agting vir hom en sy medetrekkers bied die Engelse inwoners van hierdie Setlaarsdorp hom 'n groot Statebybel aan, in Russiese leer gebind, met op die skutblad hierdie woorde:"Dit Heilige Boek is ten geschenke gegeven aan de heer Jacobus Uijs en zijne vertrekkende landgenoten door de inwoners van Grahamstad, en derzelver omtrek, tot ene gedachtenis en blijk van hoogagting en hartelijke leedwezen over hun vertrek. Die begeerte welke zij aan den dag gelegd hebben om 'n Prediker te krijgen en hunne stipte nakoming der Heilige Instelling zijn duidelijke hbewijzen dat zij op hunne tocht om een ander land te zoeken, zich zullen laten geleiden daar de bevelen in dit Heilige Boek begrepen, en standvastig aan Deszelfs Heilige Wetten zullen aankleven als onwrikbare voorschriften van den Schepper van het Heelal, - de God van alle Natien en Volkeren."Die Uys-Bybel is in 1897 deur die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek aangekoop en word en tydens die skrywe van hierdie, bewaar in die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum in Pretoria.